‘n Nuwe horison wat wag vir Beveratech.
‘n Nuwe Horison Wat Wag – WineLand Magazine Feature
Nuwe projekte en tegnologie het nuwe horisonne uitgekerf in die Beveratech-bestuurspan se pad vorentoe. En hulle voete loop nie meer net in die wingerde van Suid-Afrika rond nie…
By Wanda Augustyn
Op die perseel in Waterblommetjiestraat is geen parkeerplek nie. Oral word toerusting af- of opgelaai. Mense skarrel rond en vurkhysers swiesh verby. By ’n groot tafel sit die glimlaggende gesigte van die manne aan die stuur van sake by Beveratech, opgewonde om die nuutste nuus te deel.
“Ons het geweldig gegroei oor die afgelope agt jaar,” vertel Kobus Cornelissen, een van die direkteure. Ons bedien die bedryf in alle areas waar nodig, van die wingerd tot net voor die wyn in die bottel getap word.”
Beveratech bestaan uit drie afdelings: landbou, prosessering en ingenieurswese, met Schalk le Roux aan die stuur van die landbousake, Kobus Cornelissen en Bennie Hamman aan die prosesseringskant en Christie van Zyl, die slim man wat spook met die ingenieursake / installasies.
Aandag aan Agri
As deel van hul langtermyn strategie het die manne die sin daarvan ingesien om uit te brei en twee jaar gelede het hulle toegetree tot die landboutoerusting mark. Van die beste handelsmerke in die wêreld word deur hulle verteenwoordig, onder meer Ero Grapeliner en Ero Trimmers (bei de van Duitsland), asook die SAE Turbmatic-spreiers van Italië.
“Dit was die regte besluit op die regte tyd,” vertel Schalk. “Beveratech Agri is besig om hom te vestig as die voorkeurverskaffer van gespesialiseerde toerusting in die wingerd- en vrugtebedryf. Ons is baie kieskeurig oor die agentskappe wat ons bestuur en ontvang deurlopend uitnodigings vanuit die buiteland om as verspreiders in Suid-Afrika op te tree. Indien iets potensieel moontlik lyk, ondersoek ons die opsie deeglik en word dit vir ’n minimum van 12 maande getoets, voor ons tot besigheid oorgaan.”
Vandag is Beveratech die invoerder en verspreider van die Duitse Ero (druiweoesmasjien van 114 kW – 147 kW, wingerd- en vrugtesnoeiers en onderdele), Binger (voorsnoeiers, blaarplukkers, wingerd- en vrugtesnoeiers en onderdele) en Braun se bankieskoffels en onderdele.
“Vanuit Italië bemark ons onder meer Turbmatic-spuite vir die wingerd-, vrugte- en mieliebedryf. Ons goed toegeruste onderdele afdeling en tegniese diens herbou, herstel en diens ook enige wingerd- of boordspuite en bied tegniese ondersteuning aan alle produkte wat ons versprei. Ons dra ook voorraad en versprei Comet-spuitonderdele, asook die volledige Comet-pompreeks.”
Beveratech bemark ook die VMA-spuit, die VBC-stamskoonmakers vir wingerd en die nuutste toevoeging tot hul propvol stoor, is die MANKAR-handspuit uit Duitsland. Hierdie spuit het ’n lae volume tegnologie en ’n nou spektrum (35 – 45 mikrons) en kan gebruik word in die win gerd, vir vrugte, kwekerye, by munisipaliteite en vir groente.
“Ons besef dat boere se winsgrense onder druk is,” gesels Schalk. “Daarom is ons voortdurend op die uitkyk vir nuwe tegnologie in die wingerd wat boere kan help om koste-effektief, op ’n moderne wyse en ook om tydbesparend vorentoe te boer.”
Slim planne, nuwe projekte
Selfs in ekonomiese druk tye, het Beveratech vele nuwe projekte waaroor hulle uitwei. Beveratech Engineering help met vervaardiging en installasies van projekte met Jacobus en Quintin Cornelissen hier aan die stuur van sake.
“Ons het by UniWines in Rawsonville onlangs twee Bucher Xpert 250 hl-perse geïnstalleer,” vertel Jacobus. “Die proses is indrukwekkend met ’n 120 ton hyskraan wat deur die dak van die kelder sy werk doen. Die hele projek het ’n totaal van vyf Bucher Xpert 250 hl-perse ingesluit en dit stel die kliënt nou in staat om meer kapasiteit in die kelder te akkommodeer en sodoende te fokus op kwaliteit. By Cilmor Wynkelder het ons dieselfde Bucher Xpert 250 hl-pers laat installeer wat voortaan slegs rooi druiwe sal akkommodeer.”
Buiten die installasie van hierdie toerusting is hierdie ingenieurskant van die besigheid ook verantwoordelik vir die maak van strukture, pype, loopvlakke (catwalks), vervoerbande, hyssisteme en algemene ingenieurswerk.
“Vir hierdie nuwe jaar sit ons ook nie stil nie,” vertel Christie van Zyl van Windmeul Projekte. “Projekte reeds vasgemaak vir hierdie jaar, is een by Rietrivier, Slanghoek, Stetyn en Uitvlught Wynkelder.”
Uitmuntende dienslewering
Met die uitbreidings en groei wat die maatskappy die afgelope jaar getoon het, is die vier voltydse tegnici aangevul met nog vier. Tans bied Beveratech agt tegnici wat diens lewer aan die bedryf gedurende parstyd. Omdat voorpunt tegnologie hier so krities is, gaan die manne ook gereeld na die buiteland vir opleiding.
“Ons goeie verhoudings met die handelsmerke wat ons verteenwoordig, en veral Bucher wat ons verhouding met hulle so sterk onderskryf, het dit moontlik gemaak dat Beveratech se tegnici deesdae regoor die wêreld werk. Dit werk ook uitstekend, want tydens parstyd in die Suidelike Halfrond, werk die manne hier tussen ons mense om te sorg dat die toerusting en parstyd glad verloop. Wanneer die werk afneem en die oes weer in die Noordelike Halfrond optel, werk die manne van Oos Europa, Europa en selfs Egipte.”
Dit is juis hierdie sterk internasionale bande wat Beveratech met hul verskaffers opgebou het, wat gemaak het dat nuwe horisonne nou ondersoek word. Dit behels die uitbreiding van toerusting, parte en tegnici internasionaal.
“Met die agentskappe wat ons verteenwoordig, simboliseer die maatskappye blywende potensiaal. Die kruks is om tegnologie te bied wat waarde toevoeg tot ons kliënte. Hierdeur kry ons die geleentheid om oplossings vir ons kliënte te skep en bied ons hulle verbetering in kwaliteit, produktiwiteit en winsgewendheid,” aldus Kobus.
“Ons het dit reggekry om plaaslik betekenisvol en suksesvol te wees. Vir die toekoms kyk ons na die buiteland. Bucher heg groot waarde aan ons diens en produkte. Daarom wil ons vlerke internasionaal sprei om selfs daar ook ’n inpak te maak.”
Van druifprosesseringstegnologie en filtrasietoerusting weet Kobus en Bennie nie min van nie. Omdat hulle die verkope, voorsiening en onderhoud hiervan bestuur, is daar nie sommer ’n strikvraag wat jy vir hulle kan vra nie. Selfs die nuwe tegnologie kry hulle nie onder nie.
Die Bucher FX 10 CT-filter is ’n inlyn-filtrasiemasjien wat pas by Namaqua Wyne geïnstalleer is. Hoewel bentoniet oraloor gebruik word tydens die filtrasie van wyn, laat hierdie nuwe tegnologie toe dat die bentoniet-inspuiting tydens filtrasie geskied en so word tyd gespaar. Die voordele vir die kelder is dat slegs een inlyn-proses aan die gang is, handearbeid word verminder, tyd word gespaar, daar word gespaar op die bentonietverbruik en afval is beperk tot die minimum. Filtrasiekwaliteit is ook in ooreenstemming met die botteleringsvereistes.
“By Spier word nou ’n nuwe Oscillysontstingelaar geïnstalleer, waarna die Vistallys-optiese sorteermasjien sal volg. Die ontstingelaar werk nou sonder ’n klopperskag of draaiende cage. Dit gebruik ’n swaaibeweging (van die cage) om druiwe van hul stingels te skei en verseker kwaliteit ontstingeling deur die hoeveelheid sap te verminder en die integriteit van die stingels intakt te hou,” vertel Bennie.
Beveratech het reeds twee van die nuwe Leestar-filtrasiemasjiene plaaslik verkoop. Die voordele is legio en wynkenners glo dat hierdie filtrasiemasjien die organoleptiese, fisies en chemiese kwaliteit van die wyn preserveer.
Ander nuwe toerusting en tegnologie nou beskikbaar van Beveratech is die Inertys-pers, asook nuwe opsies op alle Bucher-kruisvloei filtrasiemasjiene.
“Ons het weer eens ’n goeie jaar beleef vir druiwe-verwerkingstoerusting vir die 2013 pars seisoen. Altesaam meer as dertig stukke toerusting is verkoop en dit sluit in, onder meer, membraanperse, ’n JLB mandjiepers, ontstingelaars, pompe, ingevoerde sorteertafels en kruisvloei filters” sê Bennie.
“UniWines, Cilmor, Vergelegen, Rhebokskloof, Rudera, Laibach, Baleia Wines, Spier, Kleinhoekkloof, Olifantsberg Wines, Blackoystercatcher, Bonnievale, Klein Constantia,Tulbach, Quality Bottling, CA Filtration, Namaqua en Paarl Wine Company is die kliënte wat weer eens hulle vertroue in ons geplaas het. Deur hand aan hand te werk met ons suster besigheid, Beveratech Engineering, kon ons al die installasies van klein tot groot op tyd afhandel.”
Click here to see the feature as published in the Wineland Magazine.